Inserv Articles

Gaan dan heen...

<< back

Willem Nel (Hoof Volta á Bïblia, Macia)

Nooit was dit makliker of selfs meer in die mode as nou nie. Kommunikasie, vervoer, infrastruktuur, alles tel in ons guns om pad te vat op 'n uitreik. Dis van die opwindendste dinge om nuwe mense en plekke te ontdek, en bied verseker wonderlike geleenthede om die Goeie Nuus van Jesus en Sy verlossing te gaan deel met ander en ook self aangeraak te word deur hierdie liefde.

Hier volg 'n paar gedagtes wat hopelik sal help om die ervaring 'n verrykende een te maak, nie net vir julle as span nie, maar ook vir die mense waarheen julle gaan:

1. Voorbereiding:

"Net met die hart kan mens gee" Elke mens se lewe is soos 'n kokon geweef rondom eie belang. Elkeen het dus sy ideale, prioriteite en kyk met sy eie oë na die wêreld rondom hom. Daar is min Goddelik daarin. Dis eers wanneer elkeen met God se perspektief gekonfronteer word, wat jou kokon oopgebreek word en God se droom vir die wêreld deel van jou program, prioriteite en manier van kyk na ander word.

Wat dus in die uitreikspan se harte gebeur in die hele proses, is wat sukses al dan nie van die uitreik sal bepaal. Daarom is geestelike voorbereiding van die grootste belang. God moet kans kry om jou bruikbaar te maak - voor die tyd.

Tyd saam as span vir voorbereiding is 'n moet. Mens het tyd nodig om mekaar te leer ken en vertrou, mekaar se gawes te ontdek, en die eenheid tussen julle te bou. Alles gaan nie op die uitreik loop "soos beplan" nie. Julle moet weet wie het die Here op julle span gesit vir 'n tyd soos hierdie in elke omstandigheid. Julle moet die vrymoedigheid hê om mekaar te ondersteun en te bedien, maar ook om mekaar tereg te wys. Ons mooiste en lelikste kante kan uitkom op 'n uitreik, en ons moet bereid wees om deur mekaar gevorm te word in die proses as deel van God se plan met ons. Begin dus die "uitreiklewe" leef terwyl julle nog tuis is! Plaaslike uitreike na mense in nood, evangelisasie ens is 'n wonderlike voorbereiding!

Dit ook nodig om vroegtydig te begin kyk na die mense waarheen julle gaan. Dalk is daar mense wat al daar was, wat ietsie kan kom vertel van hulle ervarings en lesse geleer, hoe die mense leef, hoe hulle mekaar groet, wat om te verwag ens. Leer gerus voor die tyd 'n beleefde groet in die plaaslike taal aan en hoe om dankie te sê! Dit sal harte oopmaak en kommunikeer dat hulle vir julle belangrik is. Deel van die doel hiervan is om soos God te leer voel oor die mense waarheen julle wil gaan. Ek moet leer kyk - verby die kulturele dop, verby die omstandighede, totdat ek die mense kan liefhê en vir hulle kan bid omdat hulle vir God so spesiaal is! Dis wat harte sal gereed maak vir God se werk in hulle lewens lank voordat julle daar kom, en dit sal die span ook gereed maak om 'n werktuig in God se hand te wees.

Besin gerus oor 'n verpligte voorbereidingstyd vir almal wat wil saamgaan - ek reken dit behoort ten minste 'n 6 maande tydperk te wees, met 'n een keer per week geleentheid van saamwees om te gesels met mekaar, mekaar te leer waardeer, te luister na God, te bid vir die mense waarheen julle wil gaan. Indien iemand hom nie kan "commit" vir die voorbereiding nie, moet hy of sy dalk nie saamgaan nie. Om liefde te gaan gee vra "commitment", toewyding. Liefde is die taal wat enige hart sal verstaan, ongeag watse taal en ander hindernisse in die pad staan. Oefen tyd by die huis sal ons fiks maak om nie moeg te word vir lief wees en omgee wanneer ons daar is nie. (dit sal sommer ook 'n klomp harte tuis raak)

Die ander opsie is 'n GROOT nee-nee: Betaal jou geld en spring in die kar - ons gaan op 'n uiteik! Die gevolg is altyd: Onbetrokkenheid (wanneer gaan ons see toe?), afsydigheid (groepie wat oor hulle skouer loer en sê: het jy daai gesien!), liefdeloosheid (ons maak soos ons wil, soos dit ons pas, hulle moet bykom). En die ervaring is dikwels negatief. (die mense is agterlik, ek sal nie weer gaan nie). En God se koninkryk ly skade.

Jesus se voorbeeld: Jesus het sy dissipels vir 3 jaar voorberei voor Hy hulle uitgestuur het. Wees getrou hierin! Stel vereistes, bou karakter, kweek diensknegte wat in liefde dien voor die tyd. (Die wonderwerk gebeur nie op die grens nie). So maklik as moontlik is nie die Bybel se model nie! Kweek bereidheid om op te offer, berei voor vir lyding, stryd, hoe los ons konflik op, wat maak ons as 2 groepe in ons geledere sterk voel oor 2 verskillende sake. Hoe hanteer ons teenstand, hoe kan ons dien in alle omstandighede. Jesus volg is nie vir sissies nie!

Geestelike inventaris: Elkeen in die groep moet in staat wees om

  1. Sy getuienis te kan gee - dit wat God vir hom/haar gedoen het. Mens kan getuig oor verlossing, oor gebedsverhoring, oor God se leiding, Sy beskerming. Deel die dinge voor die tyd met mekaar sodat jy wanneer die geleentheid hom voordoen, kan getuig oor God se goedheid vir jou met vrymoedigheid. (NB ons praat nie van teorie hier nie, maar van lewenservaring!)


  2. Die pad van verlossing kan verduidelik. (Hoe word mens 'n kind van God)


  3. Te kan verduidelik wat die vereistes is om Jesus te volg (en dit self doen)


  4. Te kan verduidelik waaroor die Bybel nou eintlik gaan (dws die storie van Genesis te kan volg tot by Jesus, Pinkster tot met die wederkoms


  5. Die plek van genade en werke in 'n gelowige se lewe te verduidelik. (Uit genade gered, sonder werke, maar dan die belangrikheid van 'n lewe van gehoorsaamheid wat verlossing volg)

Die vrug hiervan sal veel verder strek as net die uitreik

(Indien jou boodskap nie 4 of 5 "hoekoms" kan deurstaan nie, is jou boodskap nog nie reg vir oordra nie. Jesus het jou lief - hoekom? Hy het vir jou aan die kruis gesterf - hoekom? Om jou van jou sonde te red - hoekom? Want die loon van die sonde is die dood - hoekom? Kom ons begin by die begin... Dis die belangrikste besluit wat jy ooit sal neem! Wat Jesus kom doen het vir ons maak net sin in die lig van die Ou Testament - en dis wat die mense dalk die beste verstaan! Gebruik die Ou Testament!)

Geloof: Laat jou geloof en jou dade dieselfde taal praat. Indien jy oortuig is van jou missie, moet jy jou nie laat afsit deur gebrek aan geld, teenstand, gebrek aan ondersteuning van die leierskorps van die kerk, of vir watter rede ook al nie. Die God wat jou roep sal vir jou voorsien. Indien almal met hierdie gesindheid gaan, sal dit ook nie moeilik wees om te preek oor die Here se voorsiening vir 'n groep mense wat dalk heelwat minder as jy het nie. Die pad van die sending is dikwels 'n eensame pad. Stap hom in geloof - met die oe gevestig op Jesus (Heb.12:2)

2. Houding:

Wees nederig!
Gaan om te leer en nie leermeester te wees nie. Kuier by mense en vra vrae. Leer soveel moontlik van hulle taal, hulle lewenswyse, hulle gewoontes en gebruike. Stap saam lande toe, gaan haal saam water – hoe meer jy verstaan, hoe meer begrip sal jy hê - wat ervaar sal word as LIEFDE! Nederigheid sal vir jou feitlik alle deure oopmaak. Weerhou jouself van kommentaar lewer (regter speel) in 'n situasie wat vir jou totaal vreemd is. 1Pet 5:5 "God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade"

Respek!
Toon die nodige respek aan alle ouer mense - dit sluit julle groeplede in! Julle word dopgehou! Respekteer plaaslike gebruike. As hulle alle werk staak as iemand dood is en geen lawaai vir 'n hele dag maak nie, onderbreek julle program ook! Respek kweek respek - julle sal die vrug daarvan pluk! Heg waarde aan wat hulle dink en glo - dit gaan jou help om jou boodskap op 'n manier te bring wat hulle gaan verstaan. Fil 2:4 "...in nederigheid moet die een die ander hoer ag as homself"

Dien!
Voete was. Probeer verstaan wat bring vreugde in die mense se lewens, wat maak die lewe swaar - dis dalk iets heeltemal anders as wat dit op die oog af lyk. Ons kyk vanuit ons kulturele prentjie, ander mense se prentjie lyk anders. Hoe beter ons mekaar verstaan, hoe beter kan ons dien en liefde betoon. Onthou die reël van die liefde, ook as jy preek. Agressie (veroordeling) in jou boodskap laat val die pap op die grond! Dien in liefde. Wanneer daar verkeerde verstaan van 'n Bybelwaarheid is, help eerder dat hulle self die waarheid ontdek. Moenie net dit wat hulle glo van die tafel afvee met 'n paar Bybelversies nie! Oppas vir "kom laat ek jou gou vertel wat jy eintlik moet weet" - dis wat die baas se houding sou wees, onthou jy is die dienskneg van die Here - dien met jou hele wese. Fil 2:5 "Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: ...Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word"

Wees sensitief! Hulle moet jou nie maar vat soos jy is nie - jy moet alles in jou vermoë doen om nie 'n struikelblok in die pad van die Evangelie te wees nie. Wees veral sensitief vir kulturele verskille. Dankie word somtyds nie verwoord nie, maar is sigbaar in 'n gebaar. (mense is nie onbeskof as hulle nie eers dankie se nie!) Dinge aangee of ontvang met die linker of regterhand het somtyds groot betekenis (links is die toilet-hand - dus vir waardelose dinge - of minagting). Soms is dinge soos rook en alkohol gebruik vir een groep aanvaarbaar, maar vir 'n ander stuit dit teen die bors. Maak seker jy verstaan konnotasies wat aan goed geheg word. Sommige kulture gebruik die aflê van sekere van die gewoontes as teken van jou verbintenis aan Christus. Moenie jou getuienis op so simpel manier weggooi nie!

Verskillende kulture se aanbidding of uitings van lof klink en lyk verskillend - aanvaar mekaar in liefde. 'n Kerkie in 'n Moslem gebied gaan nie noodwendig luidrugtig en tipies charismaties wees nie. Dis nie 'n teken van gebondenheid nie. Jy gaan hulle nie vry maak deur hulle te dwing om in die kerk luidkeels goed te skree of hande in die lug te sit nie. Hulle manier van geloofsbelewing en uitdrukking is dalk net anders as joune. Afrika mense wat luidkeels "judel" maak soms negatiewe herinneringe wakker in sommige mense - terwyl dit bloot 'n uitdrukking van vreugde en lof is. Aanvaar maar dat jy nie reg verstaan nie indien iets vir jou vreemd lyk of jou afsit. Vra maar altyd eers vir 'n verduideliking.

Algemene punte:

  1. Korttermyn uitreike se hoofdoel is ondersteuning aan 'n plaaslike geestelike werker of kerk. As reël, moenie met 'n korttermyn uitreik 'n nuwe kerk probeer begin nie, tensy dit deel is van iemand wat voltyds daar werk se bedieningsplan. Dit beteken dat ons ons geheel en al moet laat lei deur uitgespreekte behoeftes uit die veld of deur ons gedagtes eers te toets aan die planne van die plaaslike werker. Te veel geld en energie is al gemors deur planne van buite af, wat op niks uitloop nie. Samewerking en koordinering met ander groepe wat dalk ook daar betrokke is, is baie belangrik. Ons moet mekaar aanvul!


  2. Gemeenskap is die sleutelwoord wanneer dit by ondersteuning kom. Daar is geen ander manier om liefde te bewys nie! Dit sluit kos in. Wees bereid om kos te deel en ook plaaslike gelowiges se gasvryheid te aanvaar. Suid-Afrikaners is veels te neusoptrekkerig as dit by kos kom! Eet saam waar moontlik. Deel julle kos wanneer besoekers opdaag as julle eet. Bietjie minder kos vir elkeen gaan niemand skade doen nie. Hou julle spyskaart so basies as nodig. Dit gaan niemand doodmaak om vir 'n paar dae sonder luukses klaar te kom nie. Miljoene mense leef van "greenstuff", bone en pap. Om in ander se skoene te gaan staan vir 'n paar dae, gaan jou 'n ander verstaan van die wêreld gee!


  3. Grootte van die groep: Wees sensitief vir plaaslike omstandighede wanneer julle besluit hoeveel mense om saam te vat. 'n Groep groter as 15 mense raak soms moeilik om te hanteer en bymekaar te hou - vir die groepleier en die mense waar julle tuisgaan. 'n Groep van 30 oordonder maklik 'n klein gemeentetjie wat net 20 lidmate het! Wees sensitief! Gaan liewer 2 keer in 'n jaar met 'n span van 15 as om een keer met 30 te gaan. Dit sal ook maak dat elkeen baie meer effektief aangewend kan word en dat sy of haar gawes tot hulle reg kom.


  4. Gesondheid: God se kinders kry ook malaria en ander siektes. Tref asb die nodige voorsorg en maak seker almal in die groep doen dieselfde. Daar is inentings teen 'n hele klomp siektes beskikbaar indien julle na 'n area gaan waar Hepatitus en ander siektes 'n wesenlike gevaar is. Dis die geld werd! Maak seker almal bly hulle malaria medikasie getrou drink, selfs nadat julle tuis gekom het. Lewende getuies getuig net heelwat beter! Jy het nog steeds die Here se beskerming nodig, so moenie dat medisyne jou verhoed om te bid en die Here te vertrou nie. God se moontlikhede begin daar waar ons moontlikhede eindig - hou jou lewe in God se hand!


  5. Bid! Dis heelwat makliker om voor te tyd te bid en vir die Here se hulp te vra vir deur die grens kom ens. as om as jy reeds in die gemors is dan jouself te probeer uitbid. Moenie aanvaar dat enige iets maklik sal wees nie. Ons is in 'n stryd gewikkel met die bose. Stry die goeie stryd en moet nooit jou skild laat sak nie - ook nie op julle "af" dag wanneer julle êrens gaan ontspan nie! "Doen alles biddend" soos die Bybel ons leer.


  6. Hou 'n gebedsaksie in stand na die uitreik. Vind gebedsbehoeftes uit en hou mekaar se harte brandend. Bou 'n groep wat op 'n langtermyn betrokke sal bly. Die Evangelie van liefde word gedra deur verhoudings. Hou dit in stand, ook wanneer julle terug by die huis is!
Geniet elke oomblik daarvan! Dis 'n fees om saam met die Here op pad te wees!